Sondag, 21 April 2013 Tema: Vat die bal Skriflesing: 2 Korintiërs 12:8-12 Leraar: Ds Attie Steyn A. Ons verhaallyne Hoe kom mense nader aan mekaar? Twee mense deel hulle verhale met mekaar. Hoe bly mense na aan mekaar? Hulle hou aan om ou en nuwe verhale met mekaar te deel. En tussendeur dit ontwikkel daar plek-plek n ons-verhaal. Deur te praat, kom mense se verhaallyne nader aan mekaar en kom n verhouding tot stand. En dan bereik ons n punt waar ons sê: ek ken jou. Ek weet hoe jy gaan optree; wat jy volgende gaan sê en gaan doen. Ek weet wat om van jou te verwag. Dikwels misgis ons ons daarmee. Veral in moeilike tye. As die een of ander doringdraadbal van n probleem of n krisis deel word van ons verhaal versteur dit maklik hierdie vreedsame langs mekaar loop van my verhaal en jou verhaal. Ek het verwag dat jy só sal reageer jy het nie. Ek het gedink dat jy my só sal ondersteun jy het nie. En meteens is ons verhouding in gevaar. Wat ek pas gesê het, is in baie opsigte ook waar van ons verhouding met God. Deur die Bybel en deur ons ervaring van God raak ons bewus van God; wie Hy is en hoe Hy in ons lewens betrokke wil wees. Mens kan sê: God se verhaal en my verhaal ontmoet en die lyne daarvan begin langs mekaar loop. Ek kan met God praat en ek is seker dat Hy my behoeftes ken en verstaan. Tot op die punt waar ek dink: ek ken God. Hy sorg vir my. Hy seën my. Hy bewaar my. En ons is oortuig: só is dit en só sal dit bly! Baie van die Psalms is met hierdie soort sekerheid geskryf. Psalm 91:5-7 Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisend langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal dit nie tref nie. Psalm 121: 5-8 Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
Ons kan ook plekke en tye herroep waar ons so n seker belydenis gemaak het. Tye wat ons so seker was van alles ook van God. En dan... dan val die een of ander vorm van n bal geroesde doringdraad uit die bloute in my skoot. En meteens is alles nie meer so helder en duidelik nie. Die verhaal van God in my lewe; my lewe as deel van God se verhaal hoe werk dit nou? Hierdie lyne het so knus langs mekaar geloop wat nou? Hoe moet ek dit verstaan? Ek was dan só seker dat U sou sorg... sou keer... Wat dan? is die vraag waarop ons vanoggend n antwoord moet vind. B. Anders as wat ons verwag Die krisis lê op twee vlakke: (1) doodgewoon op menslike vlak het ek n krisis om te hanteer én (2) ek beleef (in die een of ander mate) n krisis in my verhouding met God. Ek besef dat dit nie noodwendig vir elkeen n krisis hoef te wees nie. n Bal doringdraad wat in ons skote beland, veroorsaak nie by almal n krisis in hul verhouding met God nie en dis ook nie elke keer so nie. Ek praat egter hieroor asof dit wel tot n krisis lei bloot omdat dit dikwels wel so is. En ook om vir dié wat sê: Daar is geen krisis nie, te sê: dink n bietjie mooi, is daar nie tog dalk diep in jou hart wel die een of ander gevoel of ongemaklikheid omdat God nie sake anders laat verloop het nie. Luister na wat ander gelowiges op n dag gevoel het: Psalm 10:1 vra: Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? En Psalm 44:42: Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! Jeremia 15:18 Waarom is daar nie n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op n stroom wat nie standhoudend is nie. Dit lyk my dat dit deur die eeue gelowiges se ervaring is: daar is n plek van vreugde en blydskap sekerheid! n Plek waar ek sê: Al val daar duisend langs my, tienduisende by my, vir my sal dit nie tref nie. Maar daar is ook n plek waar ons bang, hartseer en onseker is. n Plek waar ek sê: Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? God is nie net die God van die plek van vreugde, blydskap en sekerheid nie. Hy is ook die God van hierdie plek waar ek bang, hartseer en onseker staan! God is hier (plek van hartseer) net soos wat Hy daar (plek van vreugde) is. God het nooit gesê hierdie plek (van hartseer) bestaan nie. God het nooit gesê dat daar niks sal gebeur wat ons bang, hartseer of onseker gaan laat voel nie. Ons het dit aan God toegedig. Ons sê dit graag (saam met
gelowiges deur die eeue) as ons daar (plek van vreugde) staan: Net vreugde en blydskap vir my! Ons glo graag: God sal daarvoor sorg. En dan beland ons hier (plek van hartseer)! Met n bal doringdraadbal in die hand! God het nie gesê dat jy nooit hier (plek van hartseer) sal kom nie. Maar as jy hier beland, weet: God is hier, net soos wat Hy daar is. C. Wat dan? Kübler-Ross het in die laat sestigs 5 fases van rou geïdentifiseer. Sy het gesê dat dit die fases is waardeur iemand gaan as sy/haar lewe deur siekte bedreig word. Die fases wat sy beskryf het, was: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie, aanvaarding. Intussen is die fases aangepas en ook op ander vorme van verlies en trauma van toepassing gemaak. Bv.: skok, ontkenning, woede, onderhandeling, depressie, waag, aanvaarding. Waar dit gaan oor die verlies van n geliefde, is die fases soos volg aangepas: skok, ontkenning, woede, skuldgevoelens, hartseer en pyn (depressie), laat gaan en aanvaarding, waag om weer lief te hê. Alles verloop egter nie altyd in presies sulke fases nie. Dit gebeur nie noodwendig in daardie volgorde nie. Daar is n heen- en terugbeweeg tussen fases. Iemand kan ook deur hierdie fases beweeg om dan net op n dag weer al die emosie van een of meer van die fases te ervaar. Die belangrike is dat ons sal weet dat daar verskillende fases is waardeur mense (ook gelowige mense) in moeilike tye gaan. Woede (selfs teenoor God), onderhandeling met God en om met jou hartseer en pyn voor God te staan, is ook fases waardeur gelowiges kan, mag en selfs moet gaan. Ons mag (en moet) met God eerlik wees oor dit wat in ons harte leef! Soos gelowiges deur die eeue: Psalm 73:2-5 God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Psalm 13:2-4 Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Professor Daniël Louw skryf in sy boek Hoekom? Hoekom nie? : die Bybel ken nie valse berusting nie! In talle liedere en gebede praat gelowiges van hul angs en frustrasie, en protesteer hulle teen God. God word aangekla, aangeval, beskuldig, sy regverdigheid bevraagteken.
Ek is oortuig dat God vir ons sê: My kind, jy mag vir my sê wat jy wil, moet net nie ophou om met My te praat nie. Want God weet, nog meer as wat ons dit besef, dat dit nodig is om te praat oor ons slegte ervarings (1) as deel van die pad om uiteindelik weer by vreugde en blydskap uit te kom. En (2) om daardeur ons verhouding met Hom in stand te hou. Wat beteken dit? Ons moet net hier staan en die bal vat. Dit hanteer en daarmee besig wees solank as wat dit nodig is. En nie swig voor die versoeking om dit so gou as moontlik in die een of ander boksie te sit nie. Want dit is wat ons dikwels doen. Ons probeer die doringdraadbal so gou as moontlik in n boksie sit, ons probeer n deksel opsit, en ons probeer om dit eenkant te sit. Maar kort-kort spring die deksel af! Want die deksel wat die seer, die pyn, die kwaad en onseker-wees... die deksel wat die emosie van hierdie saak moet binne hou, is gewoonlik rasionele, intellektuele antwoorde. (Daar is n plek daarvoor om rasioneel oor alles te dink maar dit pas gewoonlik eers heelwat later in die proses.) Vat net eers die bal! Hanteer dit. Erken die emosie wat daarmee saamkom. Want daarmee is jy besig om hierdie draadbal los te woel. Sodat jy later in plaas van n draadbal n stuk draad het steeds n doringdraad maar buigbaar, hanteerbaar; sodat jy dit kan invleg in die verhaal van jou lewe. Invleg in die gemeenskaplike verhaal tussen jou en God. Vergeet daarvan om net n rasionele, intellektuele deksel daarop te probeer plaas. Praat met God oor hoe jy voel. Eerlik. Reguit. Hou aan. Want om teenoor God te kla, is om in geloof te volhard. Selfs n klag teen God, is en bly steeds vashou aan God. Hou aan totdat jy alles gesê het. Psalm 69:4 Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep, selfs my oë het ingegee soos ek op God gewag het. D. Ontdek: my verhaal is opgeneem in God se groot verhaal. Jy sal nie tevergeefs wag nie. Dalk kry jy nie n antwoord soos wat jy gehoop het nie. In 2 Korintiërs 12:8-10 skryf Paulus dat hy herhaaldelik gebid het dat die doringdraadbal uit sy lewe sal verdwyn. Hy sê God se antwoord vir hom was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Ons gebruik soms die woord genade om te sê iets is net-net. As iemand op n lendelam stoel sit, sê ons hy sit op genade. Dis breekbaar en onbetroubaar. Maar nie as dit kom by God se genade nie. Dit is vas. God se ganade is so vas soos die staal in gewapende beton. God se troue liefde is daardie staal. Paulus sê verder: Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Miskien kan ons sê: wat gebeur is dat God se verhaal (wie God is) Hom só naby aan my verhaal (my lewe) bring dat wanneer iets my tref Hy gereed is om my verhaal op te neem in sy verhaal. Dat Hy my verhaal omvou, toevou in sy verhaal van genade en liefde vir mense. En dan maak dit wat Paulus volgende sê, sin: Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. Ek, met my seer en al, in my broosheid, is toegevou in God se liefdevolle genade. Is daar n kortpad? Soos: ek gee net my hartseer vir die Here? Ek wil nie daaroor dink of praat nie; ek wil nie daarmee besig wees of daaraan herinner word nie. Nee, dan het jy nie die bal gevat nie. Dan het jy net n deksel probeer opsit. Vat die bal! Hierdie plek (van hartseer) bestaan dit bestaan ook in die lewens van gelowiges. God is hier (plek van hartseer) soos wat Hy daar (plek van vreugde) is. Die wat te gou hier (plek van hartseer) probeer wegkom, kom nie daar (plek van vreugde) nie. Moenie die draadbal in n boksie probeer sit nie. Vat die bal. Wees met jouself en met God eerlik oor alles. Ek is nie oortuig dat God hierdie plek van hartseer en pyn uit ons lewens wegneem nie. Wat Hy eerder doen, is om daardie plek van blydskap, vreugde en sekerheid al nader te bring na hierdie plek (van hartseer). Kom ons bly dan in ons broosheid hier staan solank as wat dit nodig is... o maar wetende dat die krag van Christus my beskutting is. o En dat: as ek swak is, is ek sterk. o Want dan kan God se krag tot volle werking kom. En so kan n nuwe hoofstuk in my verhaal met God begin nog n hoofstuk in my gedeelde verhaal met God.